Belangrik om te weet vir die wintermaande

Ongoing concerns over global Thompson seedless raisin shortage
July 18, 2018
Rosyne by Dosyne!
November 27, 2018

Grondontledings

Die eerste ding wat belangrik is aan die begin van die winter, is dat mens moet begin kyk na jou grondontledings. Dit is belangrik om te kyk wanneer laas daar grondontledings geneem is en watter tekorte daar was. Indien nuwe grondontledings geneem word, is dit beter om dit eers laat Julie of begin Augustus te doen, sodat die na-oes bemesting uit die grond bewerk kan wees. Hierdie is net ‘n vertrekpunt, maar as daar 3 jaar terug of meer laas grondontledings geneem is, stel ek voor jy kyk daarna.

Snoeiproses

Die volgende belangrike ding wat gedurende die winter moet plaasvind is die snoeiproses. Dit raak gereeld ‘n proses wat baie boere net agter die rug wil kry en so gou as moontlik wil voltooi, maar ek dink snoei is een van die praktyke wat oor die laaste ruk die meeste afgeskeep word. ‘n Boer doen soveel ander goed gedurende die winter dat dit maklik is om die snoeiproses af te skeep. Snoei gaan nie net daaroor om ‘n loot op die draad te moet draai en te kyk of daar lote en ogies is nie; dit gaan oor die toepas van die regte praktyke op die regte tye. Almal weet dat daar boere is wat so laat as begin Augustus eers begin snoei en uitknip en vleg, maar dit is nie vir almal prakties moontlik nie. Ons ander boere begin maar vroeër, maar hoe later, hoe beter, as dit kom by snoei.

Wanneer ‘n mens begin kyk na snoei, is een van die wingerdkundige praktyke wat onlangs agterweë gelaat word om te kyk na die keuse van vleglote. Die laaste tyd sukkel ons boere nog om die drade vol te kry. Ons moet na die wingerdkundige beginsels teruggaan om te kyk hoe om vrugbare draers te vleg. Met sultanas moet ‘n mens probeer om langdraers van ten minste 10 tot 12 ogies te vleg. Vrugbare lote is lote wat uit eenjarige hout gevleg word. Eenjarige hout is lote wat verlede jaar gevleg is. Die lote wat daaruit ontwikkel het, is hierdie jaar jou vleglote.

Beginsels van vleg

Belangrike beginsels om in gedagte te hou as dit kom by vleg, is om ‘n lang draer met 10 tot 12 ogies te gebruik, sowel as die keuse van vleglote. Dit help nie jy vleg ‘n lootjie wat dunner as pinkiedikte is nie, want daardie loot gaan jou altyd ‘n minderwaardige tros gee. As jy nie ander lote het nie, vleg jy natuurlik maar waterlote ook. Die keuse van vleglote is altyd van kardinale belang. Ek sou sê ons spandeer hopeloos te min tyd daaraan. Die belangrikste lote wat gevleg moet word, is jou vrugbare lote — lote wat uit eenjarige hout ontwikkel. Nog ‘n belangrike ding om in gedagte te hou tydens vlegtyd, is die vernuwing van stokke. Bou nuwe rame met waterlote wat hierdie jaar ontwikkel het om nuwe rame vir volgende jaar uit eenjarige hout te vorm wat vrugbare lote en potensiële draers gee.

As mens kyk na Merbein ken almal die storie: Moenie te lang draers vleg nie, hou 6 tot 8 ogies op die draad (dit wil sê jy gaan ten minste tussen 40 en 48 ogies op die draad hê). Die rede hiervoor is, hoe langer jy die loot vleg, hoe meer geneig is hy om op sy punte te bot. Nog iets belangrik by Merbein is om seker te maak dat daar genoeg ogies onder die draad gelos word vir vernuwing. Die tipe “aerial” lote wat onder die draad gelos word, waaruit daar volgende jaar weer lote kan ontwikkel.

Rusbrekende middels

Ons gaan nou in die tyd van die jaar in waar boere weer begin gesels oor rusbrekende middels en watter middels om te gebruik. Enige vorm van rusbrekende middel is reg, maar mens moet kyk na die koue-eenhede. Hierdie jaar se koue-eenhede lyk beter as verlede jaar; selfs sonder spesifieke getalle en syfers om te vergelyk met laasjaar, is dit ooglopend as mens na die koue-eenhede kyk. Een van die hoofredes waarom die koue-eenhede vanjaar beter lyk as laasjaar, is omdat  koue temperature die jaar vroeër begin het as verlede jaar. Dis nie noodwendig strawwer as laasjaar nie, maar ons koueperiode is langer as verledejaar. Ons het die jaar reeds einde Mei begin goeie koue kry.

Dit is natuurlik elke boer se eie besluit of hy rusbrekende middels wil gebruik of nie. Ek gebruik al die laaste vier jaar voluit rusbrekende middels op wyndruiwe, Merbein en Sultanas en ek het nog nooit teruggekyk nie. Dit gaan nie altyd om opbrengs nie, dit gaan ook oor vernuwing, gelykheid van druiwe en nuwe lote vir die volgende jaar.

In dié verband sou ek beslis daarna kyk om rusbrekende middels te gebruik. As mens dit eers begin gebruik, raak dit ‘n verpligtingsdeel om dit in die boerdery te begin gebruik. Dit maak dit ook vorentoe in die seisoen baie makliker om sekere manipulasies uit te voer, veral wanneer ‘n mens vorentoe in die seisoen begin kyk na Gibb spuit en daar met groeihormone soos sitofex te doen gekry word, is dit belangrik om alles meer egalig te kry. Die belangrikste ding rondom rusbrekende middels is die tydsberekening. Ek spuit so laat as wat ek kan my rusbrekende middels. Sommige boere sou sê dat dit te laat is, maar ek spuit al die afgelope vier jaar van die 20ste Augustus af my rusbrekende middels met groot sukses. Ek gebruik ‘n lae konsentraat, ek spuit 2% teen so 750 of 800 liter water per hektaar.

– Die artikel is geskryf deur Willem de Vos van Filigree Trading

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *